Jesaja

Jesaja is die 23ste boek in die kanon van Hebreeuse Geskrifte wat as Ou Testament in die Bybel opgeneem is. Die boek Jesaja (1-39) handel oor die tyd van Jesaja (740-690 v.C.) toe Juda en Israel gevaar geloop het om deur die Assiriërs ingeneem en in ballingskap weggevoer te word. Jesaja waarsku die verbondsvolk om net op die Here te vertrou en om hulle te weerhou van koalisies met ander nasies. Die Here eis bekering, 'n lewe van reg en geregtigheid en geloof en vertroue in Hom. Jesaja lê veral nadruk daarop dat die Here heilig is en die sonde van die volk, onder ander die vormgodsdiens en onreg aan hulpeloses, vernietigend gaan straf. Tog sal Hy sy volk laat wees soos 'n afgekapte stomp waaruit 'n nuwe lootjie uitloop, want hy is God, Hy regeer. Hy handhaaf sy verbondsverhouding met sy volk en sal hulle red, onder ander deur 'n persoon wat op 'n besondere manier daarvoor toegerus is, 'n koning uit die stam van Dawid (7:14 e.v.;9:1-6;11:1-10). Dan sal die ander nasies die Here dien in sy vrederyk.

Jesaja was 'n profeet wat ca. 740 tot 700 v. C. in Jerusalem geleef en gewerk het. Sy profesieë is versamel in die Bybelboek wat na hom vernoem is en bestaan uit 66 hoofstukke, waarvan die oorsprong nie altyd baie duidelik is nie. Alle hoofstukke is in elk geval nie deur hom geskryf of uit sy tyd nie.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search